Your browser version is outdated. We recommend that you update your browser to the latest version.

Liewe dagboek, vandag skiet ons die eerste episode.  My maag draai soos ń tornado, want ek het ń vae suspisie ons gaan moet 'scrapbook'. En dit is iets wat ek nog nooit gedoen het nie. Daar is kammakastig fotos gedruk om ń profiel van ons te skep maar ek het net ń gevoel ... En ek was reg!

 

Die tyd faktor en spanning wat met hierdie tipe program gepaard gaan het dit glad nie makliker gemaak nie!             

Liewe dagboek, vandag was ons eerste dag by Kunsvlyt. Dit is die kenmekaar dag gewees. Ek was baie opgewonde maar die onsekerheid is tog daar omdat ek by 'n plek instap met wild vreemde mense teen wie ek gaan meeding. Ek was maar nog onseker oor wat om te verwag en hoe dinge gaan werk. Ons eerste span vergadering was vir die middag gereel na ete. Teen daardie tyd het ek darem al almal se gesigte en name bymekaar gesit. Net voor die vergadering begin is ek gou na my kamer toe om iets te gaan haal en toe ek die deur wou oopmaak toe werk die handvatsel nie. Ek het vir Berne (vervaardiger van Kunsvlyt) gebel ... geen antwoord.

 

Ek het op die groep 'n boodskap gelos en na 'n paar minute gedink niemand gaan my kom help nie.  Ek het by die venster uit gegil maar almal was reeds by die eetsaal vir die vergadering en daar was geen dooie siel naby die kamers nie. Die vensters is nogal hoog maar ek het die bedkassie voor die venster geskuif en gedink vandag klim ek hier uit ... ek het net gebid ek sit nie vas nie! Ek was al bo-op die kassie toe my instink vir my se probeer die deur weer want vandag val jy by die venster uit en breek jou been dan is jou TV avontuur daarmee heen. Ek het die deur maar 'n bietjie gewikkel en na die 3de of vierde poging toe werk die handvatsel gelukkig. Ek het vergadering toe gehol want nou was ek bang ek gaan in groot moeilikheid wees nog voordat die "show" begin het. Almal het geskaterlag toe ek my storie vertel en dit het toe sommer ook die ys gebreek.

Liewe dagboek ... wat het mens nodig vir “Scrapbooking”? Gom en ‘n skêr!!! Wat vergeet ek om te vat, GOM!!!

 

Wanneer druk toegepas word, is dit soos ‘n skoen wat druk, jy kan NIE reguit dink nie! Ek hoop die volgende uitdagin gaan beter gaan…

Liewe dagboek, vandag was ons eerste uitdaging gewees. Ons kry 15 minute beplanningstyd en ek het al my aankope in die winkel op die witbordjie neergeskryf. Toe ons mag winkel toe hol druk ek die bordjie onder my arm in en begin goed gryp van die rakke af. Eers toe ek wil seker maak dat ek alles gevat het wat ek nodig gaan hê, het ek besef dat ek alles van die bordjie afgevee het.

 

Wat ‘n ramp! En ek het toe iets vergeet, iets baie belangrik, iets wat my hele projek beinvloed het …

Liewe dagboek, ek het vandag by Kunsvlyt aangekom. Die program word opgeneem by Red Cap Ranch en aangrensend aan die oord is ‘n kamp met emos in en bokkies ens. Emos is nogal nie ‘n ding wat mens aldag sien nie, en dit het vir my baie duidelik geword toe my “shuttle” drywer met sy vinger na die emo wys en sê: “kyk die mooi pou”. 

Liewe dagboek, vandag was episode een ek was so bang dat ek nie eers ‘n stok mannetjie kon teken nie. Ek het so gebewe dat ek nie eers die verfkwas kon vashou nie … dink ek het drie keer aan my maag verstik.

"Liewe dagboek, die eerste episode word vandag geskiet en my maag is op ’n knop, ’n deurmekaarspul van gevoel en my bloed wat opgewonde in my ore suis!” Ek kan nie wag om te begin speel nie!