Your browser version is outdated. We recommend that you update your browser to the latest version.

Liewe Dagboek, Ek het nooit gedink dat ek vandag op die Kunsvlytvloer gaan staan as een van die Top 3 finaliste nie. Here, hoe kan ek dankie sê? Ons mag vandag ons fone gebruik het vir die Internet om idees vir ‘n Fotohokkie na te vors. Ek het gisteraand gedroom van ‘n muur. Swart agtergrond met Oranje, Geel, Pink en Wit blomme en plek Copper leaf. Hoekom ek nie daaraan gedink het met my beplanning, kan ek nie sê nie. Maar alles gebeur met ‘n rede. Bright spark ek sal mos altyd die uitdaging wat ek het, nog moeiliker vir myself maak. Ek kan mos nie dinge soos ‘n normale mens doen nie. Ek moet alles vir myself kompliseer! Laat dit nou vir eens en vir altyd vir my ‘n les wees. Ek het besluit om ‘n VW (60’s) Hippie Bus te maak. My idee is awesome, maar vir dit om te werk, moet ek my raam omswaai en die vensters van die bus uitsny. Sonder om eers te dink aan hoe ek dit gaan doen, besluit ek op my “Wonderlike” idee. Ek teken die voorkant van my bus en dit kom by die uitsny van die vensters. Hierdie is nie papier nie, dit is “hard board”. Daar is natuurlik 10 grinders op die vloer ... NIE!!!!!

Dit is nou te laat om van plan te verander, so nou moet ek maar die beste van ‘n slegte saak maak. Ek vat toe maar die Multi-Tool wat ‘n grinder so groot soos ‘n ou een rand muntstuk het. Ek begin sny, die lem gaan net so halfpad deur die bord dan hak dit vas. Ek besluit toe om al twee vensterrame halfpad deur te sny en dan die vensters met ‘n hammer deur te kap. Ek het amper vir Trudie ‘n hartaanval gegee, maar kap het ek gekap. So hard dat ek die raam tussen die twee vensters stukkend slaan. My brein is in “overdrive”, Ek gryp ‘n rol “Duct tape” van Henkel se rak af en plak dit weer mooi aan mekaar vas. Na ‘n gespook om die tape toe te verf, het dit gewerk. Dit het toe alles goed verloop tot ek die tyd sien, en ek moet nog my Materiaal aan die agterkant van my hokkie vas kry. Dit was ‘n gespook! Ek het die stuk materiaal, wat so skeef getrek is goed vasgekram, so vinnig as wat ek kon skoongemaak, en gehoop dit was goed genoeg. Die groot oomblik het aangebreek en ons drie staan en wag om te hoor wie is eerste, tweede en derde plek. Toe Michelle aankondig dat Teresa tweede plek gekry het, het daar ‘n verbasende rustigheid oor my gekom. Ek het geweet ek is derde, maar ek was dood gelukkig met dit. Ronell is ‘n fantastiese Kunstenaar en verdien Eerste plek. Teresa het vandag tweede plek verdien.

Ek wens hulle albei net voorspoed en sukses toe vir die toekoms. Ek moet net alle eer aan my Skepper gee. Here, U het my die wonderlike geleentheid gebied. Ek het U gevra om my te help om my loopbaan te bevorder, en ek weet dat dit U plan was van die begin af. Maar ek glo nie dit was al plan wat U vir my gehad het nie. Ek het nie net meer tegnieke en meer oor Kunsvlyt geleer nie, maar ek het ook baie van ander mense en myself geleer. Dit wat die meeste impak op my lewe gehad het gedurende my Kunsvlyt avontuur, was dat ek soveel nader aan my God gekom het. Dankie Pappa Vader! Alle eer kom na U toe! Ek wil ook graag vir die PNA groep, Kyknet, Berné van Take Heart Productions en haar span, André van Blixem Media en sy span, Michelle Holtzhauzen, Trudie Ayres en Almie Louise baie dankie sê vir die “Eens in ‘n leeftyd” geleentheid wat julle my gegee het. Baie dankie aan LA’Quilla vir julle gasvryheid en heerlike kos. Ek wil ook baie dankie sê aan elke borg vir al die wonderlike produkte wat ek die voorreg gehad het om te gebruik. Die pryse wat ek gewen het was fantasties en ek voel of ek die Lotto gewen het. Laastens wil ek al my ondersteuners baie dankie sê, julle mooi boodskappe het my deur baie moeilike tye gedra. Ek het gesê Kunsvlyt gaan my lewe verander ... en ... Dit het! Die “Crafters Comminity” gaan nog baie van Heidi Coetzee te sien kry, “so watch this space”.

Ek is nog hier! Om hier in die top 3 te wees is ‘n ongelooflike voorreg en absoluut genade van BO.

Ek, Theresa en Heidi. Ons het al 3 so ‘n uit eenlopende manier van ons ding doen. Wat lê vir ons voor? My intuïsie (soos jy weet is dit altyd reg) sê ‘n hangkas of so iets groot. Ons mag Pinterest in ons beplanning tyd gebruik. Cool!

Ons stap in, ons rytjie van 3, dit vat nie lank nie. Ek raak lam om die knieë, by elkeen se tafel staan ‘n geboude gedoente met plastiese pype en ‘n vol vel plywood, vas oon die pype.

Flip ek hoop nie dit is ‘n poppe kas nie. Waar is my kas? Sal vir my ‘n ander intuïsie moet soek, myne is so pas gefire!

Wat op dees aarde is dit? Die wat weet, die wat dit uit dink, die wat al vir ons klippe gegee het, hulle sê dis ‘n “photobooth”. Ek weet nie wat gaan hulle in die volgende reeks doen nie. Want daar is net soveel vreemde goed en ons het hulle almal gekry.

Ons beplan met Pinterest. Ek dink dadelik proteas. Ek verf dat die sop spat. Ons het darem 4ure. Maar dit gaan gou verby. Ek is so naar!

Trudie red my met ‘n pilletjie.

My spons blare skyn deur, hulle haal nie die projek nie. Daar het ek tyd gemors. Ek verf die proteas, weet nie hoe hulle gaan uitkom, maar ons is in die pyl vlak.

Dit moet werk. Ek sny uit vilt blare, vyf gelyk uit een pak. Plak, verf, maak protea blom vir ‘n prop. Maak ‘n paar bordjies. Verf blare tussen proteas. Opruim is deel van jou eind produk. Daar is verf orals, wat moet gebêre word. Ek ruim op, soort van. Ek besluit as daar tyd is sal ek nog ‘n voëltjie en ‘n vlinder op ‘n stokkie maak as ‘n prop. Ek wil nie hê alles moet verby wees nie. Ek geniet myself en dink nie eers aan iemand gaan nou die program wen nie.

En soos alle goeie dinge loop dit yd uit. Kunsvlyt is oor. Ag nee, ek sal nog baie so kan speel. Die onsekerheid wat die projek gaan wees nie, die uitdaging, plan maak, die rush, die stress en dan die eind projek.

Dis verslawend. Ek was altyd ‘n kunsjunkie, maar nou is ek ‘n 100% verslaafde kunsjunkie.

Ek is tevrede met my booth! Ek is content. Die 13 episodes het my op ‘n ongelooflike pad gevat. Ek het gegroei, ek het wonderlike mense ontmoet, nuwe vriendinne gekry. My beker loop oor. Ek het nie verwag om so vêr te kom nie. Ek het so baie geleer.

Ons kokon van die laaste 13 weke, is nou oop. Daar buite wag die normale lewe, my regte lewe. Michelle, Almie, en Trudie is die oulikste, omgee, harts mense. Ons staan vir oulaas voor hulle vir die uitslag. Net ons 3.

Toe wen ek. Ek, Ronell het kunsvlyt 2019 gewen!

Dit voel onwerklik, ek loop op wolke. Ek is ongelooflik bevoorreg, geseënd en besef weer dat “There for the grace of God goes I”.

God is goed vir my, ek is in sy hande. Ek huil, en my kinders het gesê ek mag net nie huil op TV nie, nou huil ek. Nie eintlik nie, ek TJANK!

En hier staan ek, Heidi en Ronell vir oulaas voor die steldeur en dink, vandag moet ons ALLES gee wat in ons is! Die vorige dag het die beoordelaars vir ons gesê ons kan die internet gebruik met ons beplanning en dat ons iets GROOTS moet verwag!

Ons stap in en daar staan ‘n groot struktuur – ‘n fotohokkie! Ons opdrag is om hom te versier!

Ek doen my beplanning en besluit ek gaan voëltjies en voëlhokkies as my tema kies vir ‘n fotohokkie vir ‘n kinderpartytjie! Ronell verf groot proteas op haar bord en Heidi verander haar hokkie in ‘n Vollabussie.

Die verf spat en ek werk hard om die groot bord en struktuur toe te verf. Ek sit boksies en voëltjies op die bord en met ‘n mooi witgeverfde tak uit die rommelkas, maak ek ‘n pragtige fotohokkie. 4 ure gaan bitter vining verby, maar gelukkig is die winkelstasies die hele tyd oop en ons kan net gaan voorraad haal soos ons benodig!

Dan tel Michelle die minute en sekondes af ... vir die laaste keer! Gou skoonmaak en dan is alles verby. 2 Weke se kreatief wees met ongelooflike produkte en samesyn van nuwe vriende en vriendinne. Ek het gemengde gevoelens…

Ons vat ‘n breek voor die groot aankondiging – die senuwees knaag! Tog weet jy, jy het jou beste gedoen!

Ons word ingeroep om by ons projek te gaan staan en ons kry terugvoer. Daar is baie mense op die stel vandag.

Dan breek die GROOT oomblik aan… Michelle vertel almal wat die 2de plek wenner wen, en vandag besef ek eers dat ek dalk hierdie wonderlike prys kan wen. Ek hou duime vas, ons hou hande vas, ek knyp my oë toe! En die 2de plek gaan aan…. Terèsa! Ek is in ekstase, in ongeloof!! Ek stap om my groot pryse te ontvang – wat ‘n belewenis!

Dan kondig Michelle die wenner aan ... En die wenner is … Ronell! ‘n Welverdiende wenner. Ons huil saam met die oomblik waar almal blinkers gooi en hande klap!

Derde plek gaan aan Heidi. Ons het wonderlike pryse gewen!

Ons word geluk gewens, trane van blydskap en dan eet ons lekker koek en drink sjampanje!

Wat ‘n wonderlike ervaring!