Liewe dagboek.

Weer 'n groepstaak ... aaaaahhhh!!! 

Ek en Letitia was in 'n groep. Ons style is weereens heeltemaal verskillende. Maar nog erger is die feit dat ons elk in halfuur sessies werk sonder die hulp van die ander persoon. Dit was MAL!!! Elke keer as jy buite gaan sit dan voel mens so hulpeloos en buite beheer. Vir 'n beheervraat is dit die aakligste ding ooit! Veronica en Jarius het gewen en immuniteit gekry. Hulle het dit deur en deur verdien. 

Nou vir ons volgende eliminasie ... wonder wat gaan ons die keer kry?

Liewe Dagboek, 

Spanwerk!  My senuwees was klaar want so baie soos ek van die ses van ons wat oorgebly het hou, is my styl so anders as enige een wat nog op die vloer kompeteer. En toe kom die kinkel in die kabel ... ons gaan in aflos werk! En die grootste kinkel is EK was spanmaat nommer 1 en moes die konsep uitdink en die eerste halfuur daaraan werk. Dit is erg stress want as jou projek vandag faal dan is dit JOU skuld. Dit was JOU idee! Dit is al wat die hele  tyd deur my kop gegaan het ... oh en dat ek net 'n paar sekondes het om vir Jarius te verduidelik wat aangaan ... gelukkig het hy my beplanning sketse raakgesien en ons het sooooo in sinkronisasie saamgewerk. Die windpomp wat hy gemaak het was presies soos ek my dit voorgestel het met beplanning. Dit was die lekkerste episode sover!

Aggenee Dagboek! Geen “liewe” vandag nie! Alweer spanwerk! Dit stress my uit. Vandag was ek en Melize in 'n span, alweer uiterstes. Melize se idee was baie goed. Ek het van die konsep gehou. Maar die konstruksie en gom het ons in die steek gelaat. Ai ... sug!